Wednesday, December 10, 2008

A Letter Neels Raulstone wrote me about 61Mech and my mum, Tannie Pompies.

Beste Riana




My naam is Neels Raulstone. In 1982 gedurende ops Meebos was ek deel van Transvaalse Staats Artillerie ‘n burgermag eenheid wat die artillerie battery vir 61 Mech gedurende die operasie opgemaak het. Een nag het 61 ‘n hinderlaag gelê op die pad tussen Mupa en Cuvelia. Die manne met die dik brille en baie airials op die ratel het gesê daar is ‘n konfooi op pad om die FAPLA basis by MUPA te hervoorsien.



Ons OP pos was maksimum 4 kilometer vanaf ons maar ons kon op geen manier met mekaar koms kry nie. Ewe skielik was daar ‘n damestem op die radio. Tannie Pompie naby Thumeb het begin om al die radio verkeer te herly tussen die mortier battery en die OP pos. Wat sy daardie tyd van die nag by ‘n radio gedoen het sal nugter alleen weet. Die vuur leidings bevele het 100% reg uitgekom en sy het die nag vir ons gewen. Die konfooi is uitgehaal van die eerste tot die laaste voertuig en ons het eweskielik baie pap, spagetti en vis gehad om saam met die ratpacks te eet.



Na afloop van ops Meebos was ons op pad tussen Ondangwa en Omatia. Die manne het op die radio bespreek wat ons die aand gaan doen om die terug keer na 61 se basis te vier toe Tannie Pompies weer op die lug kom. Sy het baie duidelik geen vertroue gehad in die Army se vermoë om ‘n party te reel nie. Sy wou weet wat het ons om te braai en het in geen ontsekere woorde vir ons vertel dat dit glad nie genoeg was nie en dat die troepe gaan honger ly. Sy het gesê ons moet haar net ‘n paar minute gee om iets te reel. Binne ‘n halfuur was sy weer op die lug en gesê ons moet ‘n voertuig stuur om ‘n bees en twee Koedoes te kom haal wat sy gereel het.



As ek vandag vleis braai dink ek nog altyd terug aan die Tannie wat die lewe vir ons net so ‘n bietjie beter gemaak het sonder om iets terug te gevra het.



Jou ma was defnitief ‘n besondere persoon.



Groete



Neels Raulstone.